
Geagte Voornemende Sannies Ouer
U moet in die volgende maande die allerbelangrike besluit neem oor die Hoërskool waar u u kind moet inskryf vir sy/haar Hoërskoolloopbaan. U moet verskeie faktore in ag neem, soos: Die Kurrikulum van die skool, Buitemuurse Aktiwiteite, Afstand van u huis en dalk die daaglikse roete wat u sal moet ry om hom/haar op en af te laai.
U moet egter ook die volgende vrae vir u self afvra: Gaan my kind gelukkig wees in die Hoërskool waar ons hom/haar wil inskryf ? Gaan my kind vinnig tuis voel en deel raak van sy nuwe skool of gaan hy weg raak in die massa ? Gaan my kind na 5 jaar die “groot wêreld“ kan instap as ‘n goed gebalanseerde jong man/vrou ?
Hierdie vrae is BAIE belangriker as die eerste stel vrae. U antwoorde op die tweede stel vrae gaan inderdaad u kind se toekoms bepaal. Feitlik al die skole wat u gaan oorweeg, het ongeveer dieselfde kurrikulum, buitemuurse aktiwiteite en dienste soos Beraders en Busvervoer. Dit kan dus nie die bepalende faktor wees nie !
U kind se geluk en potensiële groei moet die bepalende faktore wees !
Sannies is ʼn skool met ʼn ryke tradisie en ʼn trotse geskiedenis. Die impak wat oudleerlinge in Bloemfontein, die Vrystaat, Suid-Afrika en selfs die wêreld gemaak het, is onmeetbaar groot. Ek het die afgelope tyd diep onder die indruk gekom van die geweldige groot groep leerders, oudleerders, ouers en oudouers wat ʼn besondere liefde vir ons skool het. Dit maak my baie opgewonde oor die toekoms.
Sand du Plessis was nog altyd en is nog steeds baie trots op die gehalte kind wat ons die wêreld instuur. Ons werk hard daaraan om te verseker dat kinders die waarde van harde werk, as voorwaarde vir sukses, besef. Elke onderwyser by Sannies is trots op ons skool en sy kinders. Elke kind is uniek en kosbaar en verdien om raakgesien te word. U kind sal nooit net ʼn nommer in die massa by Sannies wees nie.
ʼn Keuse om u kind na Hoërskool Sand du Plessis te stuur, sal groot dividende vir u as ouer en vir u kind oor baie jare lewer. Kom besoek gerus ons skool en vergewis u van die feite.
Enige ouer of persoon wat dit oorweeg om sy kind in Hoërskool Sand du Plessis te plaas is ook welkom om my by die skool te kom spreek. My deur staan oop vir u!
Mnr. W du Buisson, Skoolhoof